Thursday, May 15, 2008

Rassisme ? Nee, swak maniere- R van der Ross

Wat word deesdae die meeste bespreek – die nalatenskap van apartheid, die demokrasie, ras en rassisme, of Eskom?

Bo-aan my eie lys is ras en rassisme. Hoekom? Sommer.

Sommer omdat ek verlede Vrydag uitgery het na die Paarl om te luister na ’n lesing oor en ’n bespreking van rassisme.

In die kollig was die skrywer Ryland Fisher en sy nuwe boek, Race. (Fisher het wel meestal Engels gepraat – in die Afrikaanse Taalmuseum nogal – maar die gehoor was oorwegend Afrikaanssprekend.)

En nou sit ek en peins oor Vrydagaand se dinge. Dis ’n interessante boek, wat betref Fisher se hantering van sy onderwerp. Hy het onderhoude gevoer met 17 of wat Suid-Afrikaners ut verskillende agtergronde – van ’n skooldogter tot ’n kabinetsminister; van Rhoda Kadalie tot Melanie Verwoerd; van ’n vorige universiteitsrektor tot ’n werklose bruin man in die Kaap.

Fisher stel vrae, teken die antwoorde aan, en stel sy eie menings. En dan word die saak vir bespreking oopgestel in die Paarl.

Dis jammer, uit my oogpunt gesien, dat daar so min “anderskleuriges” was, maar die vergadering is glo gereël ter ere van wyle eerw. Abe Maart, van die Paarl, en dit verklaar seker waarom dit nie wyer geadverteer is nie.

Maar om terug te kom na ras en rassisme: Die ou Grieke het mekaar gegroet met die woorde “Wie is jy, en uit watter stad (land) kom jy?” Met hierdie twee stukkies inligting kry jy die vreemdeling in fokus, as’t ware. Jy weet, in ’n mate, watter soort mens hy is, jy weet iets van sy kultuur. Jy weet hoe jy hom ten beste kan hanteer. Jy is nie vir of teen hom nie; dis iets wat later kom, namate jy meer van hom weet.

Is dít nie hoe ons ons eie benadering tot vreemdelinge aanpas nie? En daar is niks mee fout nie. Ons het wel vooroordele of stereotipes wat nie altyd pas nie, want die vreemdeling voor jou is wel vir jou vreemd. Maar jou vooroordele help om jou evaluering van hom of haar aan die gang te sit.

Niemand (behalwe Fisher self, en later meer daaroor) erken dat hy of sy ’n rassis is nie. Want rassisme is ’n lelike woord. Die ander ou is altyd die rassis, nie ekself nie.

Fisher skryf egter op bladsy een: “I believe that I am a racist because my entire life I have been groomed to become one.”

Gewis ’n goeie manier om die boek aan die gang te kry. Prikkelend. Uitdagend. Maar nie waar nie.

Want as dit waar was, sou hy nie hierdie boek geskryf het nie. Hy sou ’n boek geskryf het waarin die deelnemers aan die debat nie die vinger van blaam sou gewys het na die mense of landswette of situasies wat hul menswaardigheid gekrenk het nie. Liewer ’n boek waarin die deelnemers apartheid of rassediskriminasie sou verdedig as nodig, positief of selfs as Godgegewe. Maar daar bestaan mos nie meer sulke mense in Suid-Afrika nie, of hoe?

Die een ding wat ek in die bespreking gemis het, was ’n definisie van rassisme. Kyk, die boek se naam is Race. Maar om van ras te praat is wetenskaplik. Dus is ons gevra oor rassisme. Dis iets anders. Dit gaan oor gedrag, oor verhoudinge. Oor die inneem van standpunte ten opsigte van ander mense op grond van hul ras. Ek noem iemand ’n rassis as hy meen hy is meerderwaardig op grond van sy eie velkleur.

Baie van die beskuldigings van mense as rassiste gaan eintlik oor hul swak maniere. Sê maar iemand druk voor ’n ander by ’n winkel se betaalpunt in. Doen hy dit omdat hy wit en die ander mens bruin is, dan is hy ’n rassis. Maar as hy dit doen net omdat hy haastig is, dan is hy gewoon ongemanierd.

En mense is soms te fyngevoelig. Hulle sien rassisme waar dit nie is nie. Twee mense klets in ’n winkel, salig onbewus dat hulle die gang versper. Hier kom ek aan en kan nie verbykom nie. Ek kan ekskuus vra, dan sê hulle ekskuus en laat my verbykom. Maar ek kon ook anders optree. Ek sien hulle is wit, laat my gevoelens opvlam omdat ek bruin is, en dan kla ek dat hulle rassisties was.

Ons lewe in ’n wêreld vol van wantroue, woede, aggressie en sonde. Om te lewe asof daar eendag hemel op aarde gaan wees, waar almal van liefde teenoor almal oorborrel, is wensdenkery. Ons sal maar moet saamleef met ’n mate van onaangenaamheid oor baie dinge – soos rassisme.

) Prof. Richard van der Ross is ’n voormalige rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland.

(Erkenning aan Die Beeld)

2 comments:

Nikita said...

Hierdie inskrywing van jou is SO waar! Baie goeie blog, ek hou van wat ek hier lees! Ek is baie bly om te sien dat Afrikaans ook jou taal is, dis 'n wonderlike taal!http://chessaleeinlondon.wordpress.com is my nuwe blog

Reggie said...

Dankie Nikita, vir die comments. Ek sal jou blog besoek.