Friday, February 29, 2008

Afrikaans is op die regte pad... Danny Titus lei ATKV


Dit is met opgewondenheid dat ons kennis neem van die aanstelling van prof. Danny Titus, as ATKV se uitvoerende direkteur: kultuur (Danny Titus nou ATKV se hoof, Beeld, 29 Feb 2009) Hy neem die leisels oor by Coenie de Villiers. Hierdie besluit is inderdaad rigtinggewend, nie net vir die ATKV en kultuur in die land nie, maar vir versoening en nasiebou. In die lig van die onstellende ontwikkelinge die laaste paar dae, staan hierdie skuif in die teken van hoop. Dit is hoopvol dat die ATKV ( en hier moet Hans du Plessis en die direksie geloof word) hierdie stap neem en op so ‘n wyse die neeerslagtigheid, deesdae rondom die plek van Afrikaans en Afrikaansprekendes aan die kaak stel.

Prof. Titus, leidende akademikus en gemeenskapsleier, asook oudstudent van Universiteit van Weskaapland, wat sy doktoraat in die regsgeleerdheid in Nederland verwerf het, is van mening dat die ATKV deel is van die nuwe Suid Afrika en ‘mense kan saamneem na ‘n verenigde Suid Afrika....’. Hy dien onder andere op die direksies van die Aardklop Kunstefees en Transparency International, in Suid Afrika, maar is ten diepste ‘n intellektuele leier, gevorm in die kerklike en studentebewegings van sy dag.

Die ATKV het met hierdie aanstelling, (miskien sonder dat hulle dit weet) emfaties, ‘n streep getrek deur vele stereotipes t.o.v. wit Afrikaanssprekendes, in Suid Afrika. Daar is nogsteeds diegene wat vir hulself en kinders ‘n toekoms en sleutelrol sien in die land, as ware Afrikane. Die historiese rol van mense soos Beyers Naude, Van Zyl Slabbert, Willie Jonker, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Nico Smith, Max du Preez, o.a.- en vandag nog, Melissa Steyn, Christi van der Westhuizen, Carl Niehaus, Klippies Kritzinger, Gerrie Lubbe, en so kan mens aangaan, illustreer die rykheid van die rol wat wit Afrikaanssprekendes speel. Hierdie hier-wees, gewortel wees is integraal tot die rykheid van hierdie land en kontinent, en daarom staan hierdie besluit in die tradisie van hierdie rol, wat vorentoe nog gespeel sal word. Titus se aanstelling bring verrykende, maar verruklike moontlikhede, met sy skerp intellek, passie vir die taal en die kultuur, maar ook fyn aanvoeling en vir die omgewing waarbinne Afrikaans, as Afrika taal gaan groei. Hierdie is ‘n groot stap in die tuiskoms, nie soseer van Bruinmense nie, maar van Afrikaans, van alle Afrikaanses. Dit was ‘n lang pad, Danfred, seun van die Boland, maar wees verseker daar lê ‘n langer pad voor.... in die woorde van Adam Small, eertydse dosent aan UWK....

Die pad gaan tussen kliprante en aalwee,
swaar swartvlerk voëls styg op en skree,
in wolke stof stap veewagters en vee;

die pad gaan tussen mols-en mierhoop, singel
om pikswart vroue wat hul ringe rinkel
na die godverlatenheid van ‘n negosiewinkel;

die pad gaan op die middag hier plek-plek
onder swart lugte waaruit blitse lek
en die onrus roffelend om die hart laat trek;

die pad gaan tussen doringbos en –boom,
swart bessies, nou and dan ‘n modderstroom,
die pad gaan deur ‘n donker, donker droom

Adam Small: Sê Sjibbolet.

No comments: