Tuesday, November 20, 2007

Rapport se krisis loop dieper as anti-666-veldtog

Skielik skrik almal wakker oor die feit dat Rapport, dans na die musiek van 'n konserwatiewe Afrikaanse leserskring, maar ook hul corporatist bestuursbeleid, waar eenvoudig alles op die mark is. Volgende Tim was die Rapport se besluit bloot op kommersiële gronde. Die vraag is of die Rapport alleen is in hierdie hoek en of dit nie endemies is van die breer Afrikaanse malaise in die nuwe SA nie. Johan R (Glasoog) in die By skryf gereeld oor die 'gnossies', wat hulsef verdiep in hul ekonomiese opgang en nie 'n erg het aan die 'nuwe SA' nie. Emeritus professor in ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, Sampie Terreblance loop deur onder die sms'e wanneer hy waag om te sê die koning is kaal. Uiteraard is die werklikhede deel van die klag teen die nuwe regering se ekonomiese beleid, naamlik dat dit essensieel inspeel in die saamvloei van die media netwerke, internet en die neo-liberale ekonomiese ideologie. Aan die een kant besef ons die opkomende mag van die nuwe informasie en kommunikasie tegnologie teenoor die gedrukte media, maar aan die ander kant expose dit die feit dat min verander het in terme van die magsbalans. Ekonomiese en kulturele mag skryf, Christi van de Westhuisen, verskans nog steeds wit mag. 'Net omdat die mees sigbare gestalte van wit mag-die Nasionale Party- daarmee heen is, beteken dit nie dat wit mag nie meer met ons is nie. Die opvallendse manifestasie is wit ekonomiese mag en bevoordeling' (Perspektief, 18 Nov 2007). Beteken dit nou dat die Rapport getransformeer is deur die kritiese gasskrywes soos Christi, (in Perspektief) of bruinmense soos Hein Willemse, Jakes Gerwel ens, uit te nooi? Nee, die feit dat gaste uitgenooi word om (by tye of self gereeld) in die sitkamer kom sit beteken nie dat hulle deel van die huishouding is en besluit oor hoe die huis ingerig moet of kan word nie. Wat ons met die tuin gaan maak en watter kos ons eet - laat staan maar die besluite oor wanneer ons gaan aanbou en hoe die begroting bestee word; dit word nie in die sitkamer, met gaste, bespreek nie. Wie eintlik nog die hardste praat wanneer hierdie besluite geneem word, is die dieper krisis van Rapport... en die oplossing het nie en lê nie in die aanstelling van nog 'n 'shockjock' nie.

Friday, November 16, 2007

Kleinbaas Deon Maas afgedank by Rapport

Die Burger berig dat kleinbaas Maas na twee weke die trekpas gekry het by Rapport. Dit lyk asof die plan van Tim Du Plessis om die getalle kunsmatig te stoot, sleg gebackfire het en dat die Rapport wyd geboycott is weens Maas se kansvattery. 'n Response deur gv, het dit raak gevat, deur die Rapport strategie te tipeer as 'skoorskrywery', wat bekend is in die buiteland en, so is gehoop, die koerant se verkope sou opstoot. Tim, julle het egter (weereens !) die Suid Afrikaanse konteks verkeerd gelees. Die debatte oor die toekoms van Afrikaanse media, maar in die breë Afrikaanse taal moet rekening hou met die feit dat eerder die geloofwaardigheid van, maar ook bemagtiging deur Afrikaans ( vgl Christo van der Rheede se werk met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) relevant is-nie korttermyn foefies, wat mense vervreem, nie. Ja, maar Rapport se kernmark is miskien nog steeds 'n keiharde konserwatiewe Afrikaner, sou sommige beweer, n.a.v. die gebeure (dit lyk in elk geval na Maas se verweer). Dit gaan egter dieper; dit gaan eerder oor die vraag: hoe lyk 'n herdefinisie van die Afrikaanse media in die nuwe Suid Afrika en die toekoms ? Hoe posisioneer ons die Afikaanse media. Die keuse vir 'n neo-liberale 'doel (wins) heilig die middele' pad, waarin selfs die waardes van die gemeenskap waarbinne jy opereeer ook for sale is, teenoor die pad as sosiale gewete, waghond, die stem van stemloses, in 'n alles oorheersende ekonomiese empire lyk 'n fundamentele keuse te wees om te maak. Rapport het ontstaan binne die konteks van die Afrikanerdom se opstaan teen die Britse empire...dit was egter te eng en daarom sukkel Rapport egter nogsteeds om die feit dat derduisense afrikaanse Bruinmense ook die afrikaanse media weekliks lees, deeglik te verdiskonteer in terme van die beriggewing, maar ten diepste die etos en beleidsriging van die blad. G'n wonder dan dat die 'kleinbaas Maas'-sage nou (en vorentoe) so sleg op Rapport reflekteer.

Thursday, November 15, 2007

Afrikaner Bond vry na Bruinmense

Vanoggend het Freek, by Gesels Saam op RSG met die Afrikaner Bond ( vroeere Afrikaner Broederbond) se leiers gepraat. Alhoewel Jan Bosman (Besturende Direkteur) ook daar was, het Prof Pièrre Theron die voorsitter van die Direksie meestal gepraat. Die AB is nou besig om hulself the posisioneer as 'n oop organisasie, wat die belange van alle Afrikaansprekendes bevorder (ongeag kleur or geslag) Dit was egter interesant hoe negatief die (meestal wit) inbellers reageer op die prof en die nuwe AB. Baie het verwys na die 'Broederbond' se rol in die verlede, maar ook die feit dat, soos een inbeller dit stel, hulle ten diepste 'n jakkals in skaapsklere is- bedoelende dat die etos en gerigtheid van die verlede (in BroederBond klere) dieselfde is. Of dit wel so is, is moeilik aan te toon in terme van spesifieke gevalle, terwyl die klandestine en blatant rassistiese tendense (ten minste in die onderhoud) baie versag is-die broeders laat ook nou susters toe. Die AB beskou voorts hulself as 'n organisasie met bronne wat vir die hele Afrikaanse gemeenskap beskikbaar moet wees. Wat egter gemis word in die betoog van die professor, is die fundamentele kwessie van restitusie (of te wel regstellende aksie, in 'n breer sin). Die bronne waarop hy aanspraak maak, is bekom in terme van die logika van die apartheid/ koloniale sisteem, waarvolgens die bronne van die land, sistematies geplaas is in die hande van die witmense (toegegee, nie net Afrikaners nie). Dit is ten diepste wat ten grondslag lê van die Afrikaner Bond se magsposisie, vandag en wat hulle dan in die posisie stel om vir Bruinmense, vanuit hul kantore en die mediatoegang te nooi om by hulle te kom aanklop vir 'toelating' en 'hulp'. In die opsig het die AB nie geskuif nie en is hulle nogsteeds knus toegewikkel in hul ekonomiese mag. Die gesprek moet eerder plaasvind vanuit die vertrekpunt dat Afrikaanses... deel is van die breëre Suider Afrikaanse dinamiek, wat gekrenk is deur kolonialisme en van waaruit heling en restitusie moet plaasvind... dit is 'n gesonde basis vir 'n breere afrikaanse 'ons'.

Monday, November 12, 2007

Deon Maas waag ook 'n opinie oor bruin mense

Dit is vir my een van die mees fasinerende dimensies van witmense, dat hulle van altyd af 'kenners' was van bruinmense. Die oubaas sou altyd trots noem, 'Nee wat ek ken my mense' of die sendeling-dominee. Die nuuste 'kenner' (en daarom groot vriend van bruin mense) is Deon Maas, wat in sy artikel in die Rapport (Sondag, 11 Nov 2007. p16), geroepe voel om die mantel van 'bevryder van die verwarde bruin mense' op sy skouers te neem. Ek wonder soms of the rede hiervoor nie te vinde is in die argument van Heese in die 80s, dat witmense, veral die Afrikaners (Dis nou Maas-hulle- of hy dit wil erken of nie), in 'n sekere sin, ( ten minste geneties) deel is van hierdie groter 'groep sonder grense'. Die beheptheid van die Afrikaners met 'n aparte identiteit en fisiese skeiding in die vorming van die Afrikaner-dom, is dus goed moontlik te verklaar in die lig van hierdie teorie. Ek is egter lugtig vir essensialistiese gronde vir die definiering van rasidentiteite. Daar is uiteraard ook goeie steun vir die argument dat apartheid bloot 'n vorm van interne kolonialisme is en dat die konstruksie van rasidentiteite, die bestendiging van die kolonialiste se ekonomiese belange gedien het (God in South Africa, A Nolan 1988:70-75). Ras-identiteite word dus sosiaal geskep, genetiese teoriee en geskiedenis, taals religie, ens word ge/misbruik en dan (sodra ons die ideologie glo) begin ons daarin leef- dit word vir ons 'normaal' en deur ons 'normaal-heid' lees ons dan ander, tipeer ons die ander, skep en (mis)vorm ons ander. Dit is wat Maas dan doen. Alhoewel Maas gewoonlik luidrugtig roem op sy vrye denke, en so sy 'bevryding' van Afrikaner-wees, bly hy tog maar bloot 'n kind van sy tyd-'n boerseun. Om egter voor te gee dat jy self los staan en nie vanuit jou ideologiese bril na die 'ander' kyk nie, kleinbaas, is naief of bloot oneerlik en misluidend. Wat jou artikel dus doen, is bloot om ons te help om jou te verstaan in terme van waar jy vandaan kom, van wie hy (nodsteeds) is en wil wees- 'n witmens, gemaklik in sy magtige witheid, wat (weereens) dink hy ken bruinmense en ... op grond daarvan mag praat namens Bruinmense. Jou argumente en pogings tot koherenesie is irrelevant, selfs al sleep jy jou vriendskap met bruin mense en jou stereoptipes in. Terloops dit is so pateties om uit wanhoop jouself te verdedig met die openbaring dat jy 'ook bruin vriende het'.. maar dit net terloops.
Kleinbaas, die toekoms van bruin mense lê nie daarin dat witmense soos jy, help om ons stem duideliker oor te bring nie... gaan eerder terug na jou eie mense en vertel hulle van die impack van slawerny en kolonialisme, vandag nog, op hierdie 'armsalige verwarde groepie... Miskien sou jy ons almal 'n guns gedoen het deur eerder te luister na jou eie raad... aan die begin van die artikel, en bloot vir ons te sê wie jy is ...maar dan, wat ons aanbetref, is jy maar net nog 'n magtige witmens, magtig gemaak deur apartheid, en daarom die sogenaamde kenner van bruinmense.